Beste Kliënt
Dis is verbasend watter groot verskil ’n klein bedraggie wat elke maand afgeknyp word aan jou finansies kan maak. Deur die ekstra bedraggies in jou verband in te betaal, kan jy duisende rande aan rente bespaar. Ons kyk hoe jy die volgende generasie ’n finansiële vastrapplek kan gee met ’n belastingvrye spaarrekening.
Die jaar is by die halfpadmerk en jou mediesefondsvoordele moet nog ses maande hou. Met beplanning en ’n paar voorkomende stappe is dit moontlik om jou mediese voordele vir die volle jaar te rek.
Die 2016-belastingseisoen het op 1 Julie geopen. Voor jy jou opgawe indien, is daar sekere dinge om na op te let. Laastens, dinge gebeur wat ons lewens en die wêreld rondom ons verander – ons kan jou help om die implikasies daarvan op jou en jou finansiële plan te verstaan. Hou ons dus op hoogte van jou persoonlike omstandighede en klop gerus by ons aan om raad te vra.
Vriendelike groete
Elsa Vorster |
Betaal jou huislening gouer af
Deur jaarliks ’n dertiende paaiement op jou huislening af te betaal en jou bank opdrag te gee om dit te gebruik om die kapitale gedeelte van jou lening te verminder, kan jy die termyn verkort en rente op jou huislening bespaar. Een ekstra betaling per jaar kan jou terugbetalingstermyn van 20 jaar met 50 maande verkort.
Jy kan ook elke maand ietsie ekstra op jou verband afbetaal. As jy byvoorbeeld R500 per maand ekstra afbetaal op jou verband van R750 000 met ’n termyn van 20 jaar en ’n vaste rentekoers van 10% per jaar, kan jy jou leningstermyn met 40 maande verkort.
Spaar ekstra geld deur korttermynskuld en winkelrekenings wat jou begroting dreineer, te verminder of af te betaal. Belastingkortings, kontant-geskenke of ’n 13de tjek kan ook as ’n ekstra afbetaling op jou verband gebruik word.
Klik hier om meer uit te vind. |
Belastingvrye spaarrekening vir kinders
Baie ouers en grootouers maak gebruik van belastingvrye spaarrekenings (BVSR’s) om ’n neseier vir hul kinders of familie op te bou wat hulle vir hul studies kan gebruik of om ’n eie besigheid te begin wanneer hulle 18 word.
Jy kan tot R30 000 per jaar in ’n BVSR spaar en tot R500 000 in ’n leeftyd. Alle rente, dividende en kapitaalgroei op die belegging is belastingvry, en daar is geen kapitaalwinsbelasting op onttrekkings nie.
Jy sal ’n donasie moet maak om in ’n kind se naam te belê. Donasies van minder as R100 000 per belastingjaar is vrygestel van kapitaalwinsbelasting wat in die hande van die donateur gehef sou word. Beleggings wat in ’n kind se naam in ’n BVSR gemaak word, verminder die kind se leeftyd-limiet van R500 000, en nie die donateur s’n nie.
Vind meer uit oor BVSR’s. |
Rek jou mediesefondsvoordele
Is jou mediesefondsvoordele halfpad deur die jaar reeds opgebruik? Só kan jy jou voordele langer laat hou:
1. Praat reguit en eerlik met jou huisdokter oor jou gesondheid, enige skete en jou behoeftes vir die jaar. Statistieke toon wanneer dokters hul pasiënte se gesondheidsorg koördineer, is daar ’n kleiner waarskynlikheid dat hulle gehospitaliseer sal word.
2. Vra jou huisdokter om voorskrifversameling-medisyne voor te skryf; dit is die medikasie vir elke toestand waarvoor mediese skemas sal betaal. Dring ook aan op generiese medisyne, wat gewoonlik goedkoper maar net so doeltreffend is.
3. Gebruik jou voordele vir noodsaaklike medisyne wanneer dit nodig sou raak, eerder as vir vitamiene en leefstylitems. Laat doen ook die voorkomende ondersoeke en toetse waarvoor jou mediese fonds betaal om enige gesondheidsprobleme te identifiseer en te behandel voordat dit erger word.
Klik hier vir nog handige advies. |
2016 Belastingseisoen
Die nuwe belastingseisoen het op 1 Julie geopen, maar voordat jy jou opgawe vir die belastingjaar geëindig 29 Februarie 2016 indien, is daar enkele aspekte om in gedagte te hou.
Jy hoef nie ’n belastingopgawe in te dien as jou totale salaris voor belasting minder as R350 000 per jaar is nie en mits jy aan sekere ander kriteria voldoen. Die spertyd vir belastingindiening wissel vir die verskillende belastingbetaler-kategorieë, so maak seker watter spertyd op jou van toepassing is.
As jy ’n belastingpraktisyn se dienste gebruik, moet hy of sy by een van die erkende beheerrade asook by die SAID geregistreer wees. Stawende dokumente soos jou IRP5- en IT3(b)-sertifikate moet vir ten minste vyf jaar gehou word.
Lees meer oor die belastingseisoen. |
Watter vrae om aan jou finansiële adviseur te vra
Jaarlikse veranderinge in die Nasionale Begroting, asook regulatoriese en persoonlike veranderinge kan jou finansiële plan beïnvloed. Jou finansiële adviseur kan jou help om die implikasies van hierdie veranderinge te verstaan en jou finansiële plan daarvolgens aan te pas.
Deur jou finansiële adviseur die regte vrae te vra, kan jy uitvind presies hoe dit jou salaris, mediesefondsbydraes, begroting en aftreespaargeld sal raak. Persoonlike veranderinge sluit in salarisaanpassings, nuwe aankomelinge of sterftes in die familie, lewensveranderende gebeure en die aankoop van nuwe bates.
Kliek hier om te sien watter vrae om te vra. |
Bly asseblief in kontak
Kontak my asseblief indien jou omstandighede of behoeftes verander het en jou finansiële plan hersien moet word.
Elsa Vorster
082 923 5118
elsa@fintip.co.za
Paul Rouxstraat 24, Dan Pienaar, BLoemfontein
Ek hoor graag van jou! |